Binne in die mooiste huisies

Sondag oggend is die straat leeg. ‘n Ou stuk koerant waai wispelturig oor die verlate straat. Die briesie van die see stoot die papier nog so paar tree verder voordat dit tot stilstand kom teen ‘n ou Melkhoutboom. Die Goukou rivier lê stil en bak in die oggend son.

Die weerkaatsing van die huisies maak mens kalm en rustig. So rustig dat jy vergeet dat daar mense is wat daar woon. Die huisies is kleurvol en die tuine netjies. Die spieëlbeelde op die water rimpel so nou en dan. Die enigste beweging. Stilte.

Ek hoor die kerk orrel. Die stemme bereik my ore so sekonde later. Dof, eentonig. Die gemeente sing nou seker ‘n Psalm. Ek luister. Ek ken die liedjie. Psalm 15. Ek onthou hoe ons dit op Sondagskool gesing het 45 jaar gelde. Ek kon nooit die woorde onthou nie, maar ons moes agterbly om dit te leer. Elke woord.

Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here?
Wie mag op u heilige berg vertoef?

Hy wat onberispelik wandel
en doen wat reg is,
wat met sy hele hart die waarheid praat,

nie kwaad praat nie,
sy medemens nie kwaad aandoen nie
en niemand beledig nie;

hy wat dié verag wat deur God verwerp is,
maar almal eer wat die Here dien;
wat sy woord hou, selfs tot sy eie skade,

sy geld nie op rente uitleen nie
en hom nie laat omkoop om die onskuldige te kort te doen nie.

Ek kyk weer na die huisies aan die oorkant van die rivier. Die son tref die mure. Dit maak die kleure nog helderder uitstaan. Idillies. Beeldskoon. Die stemme word harder soos wat hulle die noot soek.

nie kwaad praat nie,
sy medemens nie kwaad aandoen nie
en niemand beledig nie;

Ek wonder by myself; Wat dink hulle as hulle in die kerk staan, met die Psalm boekie oop voor hulle. Die dominee agter die preekstoel. Die kinders aan albei kante van pa en ma. Wat dink hulle as hulle die woorde sing?

Ek hoor “Amen!”, en ek stap aan. Verby die ou skuit wat al vir jare daar lê. Ek tel die koerant papier op wat vassit teen die Melkhoutboom. Ek frommel dit op en gooi dit in die asblik op die hoek van die straat.

Die motors kom nader, soos ‘n begrafnis stoet. Een vir een ry hulle verby. Pa agter die stuurwiel met ‘n ernstige kyk op sy gesig. Ma kyk anderkant toe. Die kinders is tjoepstil. Nog ‘n motor kom verby. En nog een. Huistoe.

My foon maak “piiiing”. Ek kyk na die skermpie. Dis ‘n “notification”. Iemand het ‘n foto gelaai op een van die Facebook groepe. Een van die baie Facebook groepe in die dorp. Die Facebook was stil vanoggend. Want almal was in die kerk. Nou is hulle by die huis.

Ek behoort aan omtrent al die Facebook groepe, want dit is my werk. Hierdie foto is by “Opsitkers” geplaas. ‘n Vrou met baie groot bates in ‘n rooi baaibroek wat net vir ‘n walvis sal pas. Die opskrif is “Stamp my soos ‘n Isuzu, PAPPA!”.

“Piiing” maak my foon weer. Dit raak nou besig. Hulle is seker nou almal by die huis. Sit nou op die stoep en drink die eerste brannas en coke. Nog nie die suit uitgetrek nie. Die das is darem af.

Ek kyk na my my foon. Dis ‘n Whatsapp van ‘n vriend. Nog ‘n foto wat op een van die groepe geplaas is. Die foto se opskrif is “Found an old pic of my uncle joe. He was a fucking legend. That’s me playing in the background.” In die agtergrond van die foto is ‘n kind besig om te speel met ‘n ander kind op die strand maar dit lyk asof hulle seks het. Die kind is seker nie ouer as 5 jaar nie.

My foon hou aan “piiing”. Ek wil nie meer kyk nie.

Ek kom by die huis. Koffie eerste en dan voor my rekenaar. Ek gaan sit. Maar vandag voel ek vuil. Ek het nie so ver gestap nie, maar ek voel klammerig. Vuil. Ek gaan stort. Ek sukkel om die vuil afgewas te kry. Hierdie tipe vuil kan mens nie met seep en water afkry nie.

Ek skuif voor my rekenaar in. Wie behoort aan hierdie groepe? wonder ek. Ek vra my vriend om vir my die ledelys te stuur. Ek ken die name. Omtrent almal van hulle. Die sogenaamde pilare van die gemeenskap is ook daar. Trotse burgers van ons klein dorpie. Van kassiere tot raadslede behoort aan die groepe. Besigheid eienaars, eiendomsagente, bankiers en skoonmakers. Almal. Ek kyk weer na die boodskappe. Nog ‘n vriend stuur vir my iets. Ek skud my kop.

Die huisies is mooi. Die kleure helder, daar oorkant die rivier. Die kerk is uit. Die groepe is besig. Foto’s word gelaai en kommentaar gelewer. Die Psalm is vinnig vergete. Geen tyd vir moraliteit nou nie. Dit was vroeër. Voor die brannas en coke.

Daar, binne in die mooi huisies, met die mooi geverfde mure en die netjies tuintjies, sit die burgers. Hulle oë stokstyf gefokus op die skermpie terwyl hulle met ‘n dik vinger deur die plasings blaai, opsoek na nog ‘n vulgêre prentjie. Nog ‘n rassistiese grappie. Nog ‘n persoonlike aanval. Hulle rol rond in die varkhok en skater van die lag terwyl hulle mekaar met vark mis besmeer. Selfs die wat nie deelneem nie, maar lede is, word ook bedek met die vark mis. Die stank is ondraaglik.

Ek wil weer gaan stort, maar ek weet dit sal nie help nie. Ek sit die rekenaar af. Ek nodig om asem te skep. Ek nodig vars lug. Die seebries laat my beter voel en ek kyk oor die see. Die dorpie lê in die afstand.

Mis kom stadig aangerol oor die diepsee. Ek kyk weer maar die dorpie is weg.

Weg in die mis.

Marthinus Strydom

Marthinus is a venture capitalist and private equity investor. He is the Chairman and Chief Executive Officer of the MJS Capital Group.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *